Swartlandskou 2026: Groter, Beter en steeds ’n Hoogtepunt op die landboukalender
- Skou Media

- Jun 9
- 2 min read
Swartlandskou 2026 vind van Woensdag 2 tot Saterdag 5 September 2026 plaas op die Moorreesburg skougronde en beloof om weereens een van die grootste en mees dinamiese landbou- en masjinerie-uitstallings in die Wes- en Suid-Kaap te wees.
Oor die afgelope jare het Swartlandskou ontwikkel tot ’n toonaangewende platform waar landbou, innovasie, gemeenskap en vermaak saamvloei. Die skou bied ’n omvattende en uiteenlopende program wat voorsiening maak vir bedryfskenners, produsente, gesinne en die breër publiek.
GROOTVEE-KAMPIOENSKAPPE GAAN VOORT
Swartlandskou bevestig met trots dat die grootvee-kampioenskappe in 2026 sal voortgaan soos in die verlede. Die skou het oor die afgelope paar jaar ’n uiters hoë standaard van biosekuriteit gehandhaaf en bly verbind daartoe om hierdie standaarde verder te versterk. Addisionele biosekuriteitsmaatreëls word geïmplementeer om te verseker dat die terrein en alle fasiliteite ten volle gereed en veilig is vir die aanbied van die veeprogram.
TOP TELERS DING MEE TOT GESOGTE TITELS
Die landbouprogram sluit ’n grootvee arena en kampioenskappe in, aangevul deur uitstallings van top teelers en besighede. Hoogtepunte sluit Interraskampioenskappe, die Wes-Kaap Jeugskou, ’n Pluimveeskou, asook Vlaam- en Saalperde kampioenskappe in. ’n Skouspelagtige 8 wa-span perdvertoning sal weereens ’n hoogtepunt op die program wees.
MASJINERIE EN INNOVASIE
Besoekers kan die nuutste landboumasjinerie van naby ervaar, met indrukwekkende uitstallings wat die jongste tegnologie en toerusting vir moderne boerdery ten toon stel. Lewende demonstrasies en interaktiewe uitstallings bied ’n praktiese blik op hoe hierdie innovasies in die praktyk toegepas word.
VERMAAK, LEKKER KUIER EN GENOT VIR ALMAL
Die gewilde Damesdag, Woensdag 2 September, bly ’n hoogtepunt op die kalender, waar meer as 500 dames ’n dag van inspirasie en stylvolle vermaak geniet. Vermaak deur Elandré en Francois Boyce, saam met gasspreker Donna-Lee Roberts, beloof om die geleentheid besonders te maak.
Vanaf Donderdagaand kan besoekers uitsien na topklas musiekvermaak deur gewilde kunstenaars, terwyl kinders weer die gewilde kinderarea kan geniet wat propvol prettige aktiwiteite is.
Kosliefhebbers kan uitsien na ’n fees van geure met ’n wye verskeidenheid kosstalletjies en restaurante, terwyl die algemene uitstallings ’n skatkis van produkte en unieke items bied.
Besoekers word ook herinner aan die gewilde Tentedorp op die skougronde, wat gerieflike en veilige akkommodasie bied vir feesgangers en uitstallers wat die volle skou-ervaring wil beleef.
LANDBOU IN FOKUS
Die gewilde landbou-oggend, wat op Vrydag 4 September aangebied word, beloof om weer eens ’n insiggewende en relevante geleentheid te wees waar kenners die nuutste tendense bespreek en waardevolle insigte oor die toekoms van landbou deel.
WAT IS NUUT IN 2026?
Swartlandskou is trots om in 2026 vir die eerste keer ’n Boerboel-kampioenskap aan te bied. Hierdie opwindende toevoeging tot die program sal ’n groot trekpleister wees vir honde-entoesiaste en families.
’N UITNODIGING AAN ALMAL
Swartlandskou 2026 nooi u uit om deel te wees van hierdie dinamiese en groeiende gebeurtenis. Of u belangstel in landbou, tegnologie, netwerking of bloot ’n aangename dag saam met familie en vriende wil geniet, daar is iets vir almal.
Volg @SwartlandskouMoorreesburg op Facebook en @Swartlandskou op Instagram.
UITGEGEE DEUR
SKOU MEDIA 9 Junie 2025
Swartlandskou Moorreesburg




Comments