|
|
Geskiedenis:
|
Moorreesburg is gestig op die plaas Hooikraal, staatsgrond wat in 1939 deur die destydse
goeweneur aan die Kaap, Sir George Napier, as ewigdurende erfpag gegee is aan Tobias
Lochner. Moorreesburg het in 1898 dorpsstatus verkry, in 1909 munisipale status en is
vernoem na Ds. J.D. le Febré Moorrees wat vanaf 1834 tot 1879 in die Swartland leraar was.
Die eerste boere wat in Moorreesburg omgewing begin boer het was Jan van Zyl en Klaas
Hendrik Diepenouw, setlaars uit Nederladnd in 1709 . ‘n Paar jaar later in 1715 het ‘n
Franse Hugenoot, met die van Hugo hom hier kom vestig op Leeuenkuil. Die oudste plaas
in die omgewing is Swartberg. Koringboerdery is die hoof boerdery-aktiwiteit maar canola,
lupine, skape en beeste vorm egter deel van hierdie uiteenlopende boeregemeenskap.
GESKIEDENIS VAN SKOU:
Die Swartlandskou het begin as ‘n klein samekoms van boere in die omgewing wat idees
uitgeruil het oor saaimetodes en hoe om beter oesresultate te verseker. In die twintigjare
is die eerste skoubyeenkoms van perde in Hooikraal, Noord van Moorreesburg gehou. Die
terrein het later te klein geword en is in 1933 verskuif na die ou amptelike skougronde – oos
van Rosenhof by die Piketberg-ingang met die naam Moorreesburg Skouvereniging. Daar was
weinig geriewe en ‘n Paviljoen is opgerig met die kombuis en eetsaal daaronder. Vertoners
het self stalle opgerig met sinkplate en die pluimvee-, vark-, skaap- en beesafdelings
saamgeflans.
Diere wat geskenk is vir die skou was deur die mans geslag en deur die vroue verwerk. In
die buitekombuis was houtstowe waar alle kosse gaargemaak en brood en roosterkoek gebak
was. Hier was dit warm en is baie gewerk.
Die kroeg was onder die bloekombome. Die huisvlytafdeling was in ‘n klein geboutjie maar
die dames het destyds baie sterk teen mekaar kompeteer. Dit was ‘n hele jaar se insette.
Van verskillende soorte tuisgemaakte seep tot plaasprodukte die ligste pasteideeg en
netjieste naaldwerk, te veel om te noem. Baie dames moes hier punte verwerf het vir hul
beoordelaars sertifikate asgevolg van die hoë standaarde waaraan hierdie huisvlytafdeling
gekoppel was. Die VLV in samewerking met die skou het hierdie gesogde afdeling aangebied.
Jare gelede het Ben Mostert met 80 trekperde na die skou gekom, Koos du Toit met 30
perde en Frikkie Serdyn met twee spanne muile plus nog heelwat ander deelnemers – almal
plaaslik. Vandag is daar min plaaslike deelnemers en die voedingsbron is meesal van
buite. Die perdeafdeling was ‘n miernes van bedrywighede en die klasse is aangekondig
met die klap van ‘n sweep.
Dit was nie ongewoon om ag wa-spanne en tien waspanne muile op Moorreesburgskou te sien
nie. In die vroeë dertigejare tot die laaste vyftigjare was trekdiere volop en is op
plase gebruik. Die koms van die meganisasie het die trekperd getalle afgeneem sodanig dat
dit vandag uitsonderlik is om ‘n waspan van ag perde op die skou te sien. ‘n Tradisie
wat met alle mag aangemoedig en vertroetel moet word.
Huidige skougronde:
In 1970 het Gemeenskapbou die ou skougronde te Rosenhof aangekoop vir die aanbou van ‘n
skool, wat nooit gerealiseer het nie. Die huidige skougronde is aangekoop en daar is
dadelik begin beplan en bou. In die jare sewentig het Malmesbury skou ophou bestaan a.g.v.
verkoop van hul terrein. ‘n Afvaardiging van Moorreesburg skou het ampsdraers van Malmesbury
gaan spreek om die gemeenskappe bymekaaar te bring en een groot skou aan te bied. Samesprekings
was positief en daar is besluit om die naam Moorreesburg Skougenootskap te verander na
Swartlandskou (Moorreesburg) sodat die hele Swartland later geakkomodeer kan word. Malmesbury
het later egter weer begin met ‘n eie skou en die beplanning het deur die mat geval.
Die eintlike groei van Swart;landskou Moorreesburg het plaasgevind in 1972 toe die nuwe
skougronde, waar vandag nog geskou word, betree is. Die bes moontlike geriewe is geskep
met ‘n pragtige uitgelegde skoukompleks. Die hele Moorreesburg gemeenskap het van toeka
tot nou saamgespan en saamgewerk aan die sukses van die skou. Die mans en dames-besture
het ge-amalgameer en onder een bestuur gefunksioneer. Daar is vir die eerste keer ‘n
amptelike damesbestuur met voorsitter gekies wat sitting, insae en insette in die mans
afdeling kon lewer en omgekeerd. Die dames afdeling het goed finansieel bygedra. Tradisies
soos geurige kosse waarvoor die skou bekend is, is voortgesit dit word vandag nog deur die
damesbestuur aangebied in 4 verskillende lokale om almal se sak en smaak te pas.
‘n Jonger generasie het oorgeneem en die skou het uitgebrei in alle fasette tot een van
die grootste landbou en landboumasjienerie plattelandse skoue in Suid en Weskaap. In die
vee afdelings is begin met die aanbied van kampioenskappe waardeur getalle en kwaliteit
verbeter is. Vandag kan ons spog met talle SA Nationale kampioenskappe wat aangebied was
en met enige ander groot skou kan kompeteer indien nie beter. Veeveiling en karkaskompetisie
is n geweldige sukses.
Die aanbied van Skogdag, Damesdag, skooloptredes en stalletjies is ‘n geweldige groot
aanwins tot die bywoning van die skou. Dit is met groot dankbaarheid dat ons kan gade
slaan hoe die skou jaarliks groei en dat dit ‘n groot geleentheid is vir die gemeenskap,
wat in alle opsigte hul volle samewerking gee.
Ons eer diegende wat die grondslag van Moorreesburg skou gelê het en hierdie uitsonderlike
tradisie in die Swartland laat voortleef het en aan die nageslag oorgedra het.
Hannes Fullard.
President.
|
|
|